WELKOM IN DIE HARTJIE VAN DIE VALSKAROO
Skep asem in die koelte van groot inheemse bome en raak weer jouself in die rustigheid van ons pragtige tuin en ryk voëllewe.
Vul jou longe met die geur van bossieveld en wilde kruie wat net die Karoo jou kan bied.
Middelburg Karoo is soos sy naam sê in die hartjie van die Valskaroo. Omring deur buurdorpe soos Colesberg, Steynsburg, Hofmeyr, Cradock, Graaff Reinet, Nieu-Bethesda, Richmond en Hanover wat almal rondom ‘n radius van 100km strek, is Middelburg die ideale plek waarvandan die hele streek se wonders verken en ontgin kan word. Dit lê ook presies halfpad tussen Johannesburg en Kaapstad wat dit ‘n natuurlike “oorlêplek” maak.
Maak ‘n dag daarvan en besoek Lusernvale, geboorteplaas van die digter G.A. Watermeyer, ook bekend as die “Sneeubergkom se boerseun”, onder die wakende oog van Kompasberg. Ry ‘n entjie verder en besoek Nieu-Bethesda se bekende Uilhuis, bierbrouery en bokmelkkaasfabriek wat sorg vir toeristevermaak. Klim op die teerpad na Graaff Reinet, die juweel van die Karoo, en spandeer ‘n middag in die Vallei van Verlatenheid of besigtig die talle museums, kunsgallerye en die wêreldklas Drostdy Hotel vir “high tea”.
Verloor jouself in die geskiedenis van Grootfontein Landboukollege net buite Middelburg, waar die Vorster/Van der Walt museum en pragtig-bewaarde sinkgeboue uit die Tweede Vryheidsoorlog jou herinner dat hierdie op ‘n tyd die grootste militêre basis van die Britse weermag was.