MEER OOR ONS

Ons Villa is in die Art Deco styl gebou.  Hierdie styl is ‘n invloedryke ontwerp wat aanvanklik in Frankryk na die Eerste Wêreldoorlog verskyn het en internasionaal gefloreer het tussen die 1920’s en 1940’s waarna sy gewildheid getaan het.  ‘n Bekende en een van die mooiste voorbeelde van Art Deco argitektuur is die Chrysler-gebou in New York.

Voorbeelde van Art Deco argitektuur is ook versprei dwarsoor Suid-Afrika.  In Johannesburg alleen is daar meer as 100 geboue in hierdie styl, meeste van hulle is nasionale monumente.  His Majesty’s gebou in Commissionerstraat is ‘n drie-toring kantoorblok wat ‘n hele straatblok beslaan en is as’t ware ‘n Art Deco “paleis”.  ‘n Gedeelte daarvan was die eerste tuiste van die SAUK.

‘n Ander bekende voorbeelde van die Art Deco styl in Suid-Afrika is die Mutual Heights-gebou in Kaapstad wat waarskynlik die enigste gebou in die wêreld is met Art Deco wildsbok motiewe!

Ons villa, te Smidstraat 14 in Middelburg Karoo, is een van die mooiste voorbeelde van ‘n woonhuis wat in diè styl ontwerp is.  Die “trappies” gewel met drie horisontale lyne voorop, twee kortes met ‘n langer een in die middel, hoekvensters en uitgeboude stoepe is tipies Art Deco.  

Die oorspronklike huis is in die 1930’s deur Tiny Post, ‘n prokureur en vennoot in die firma Du Plessis en Post, gebou.

Die huidige eienaar, Louis de Swardt, ook ‘n “boerseun van die Karoo”, wou graag hierdie skat vir die nageslag bewaar en het die besondere huis in ‘n gastehuis ontwikkel, bestaande uit vier eenhede.

Eenheid 1 bestaan uit die oorspronklike huis, terwyl die ander eenhede almal bestaan uit twee slaapkamers met en-suite badkamers en ooplan kombuis/woonkamer.  Elke slaapkamer sowel as die woonkamers beskik oor ondervloerse verhitting en dubbel houtraamdeure wat uitloop op ‘n private stoep.

Die kompleks word in ‘n U-vorm gebou met ‘n swembad in die binnehof.  Die pragtige groot inheemse Karee-, Witstinkhout- en Olienhoutbome is almal behou en vorm deel van die rustige, koel tuin.

Vir die ontwikkeling van hierdie kompleks het Louis vir Hennie Lambrecht, bekende argitek van Bloemfontein, genader.  Hennie het die Art Deco styl ook vir die nuwe eenhede behou.

Op die oomblik is slegs een van die nuwe eenhede gereed vir gebruik.

 

 

FOTO'S